Stamsel-revolusie is hier


Die navorsing met kweek van stamselle was tot onlangs nog ’n droom wat bewaarheid moes word.

Die eerste sukses waarvan Suid-Afrikaners baie bewus geword het, was toe klein Pippie Kruger suksesvol behandel is met stamsel gekweekte veloorplantings. Toe is van haar eie vel gebruik om stamselle te kweek wat uiteindelik suksesvol op haar oorgeplant is.

Dié kweek en oorplanting is bekend as somatiese sel-kernoordrag van die pasiënt se velselle na skenker-eierselle wat in die toekoms kan lei tot die suksesvolle behandeling van siektetoestande wat tans nie behandel kan word nie.

By die Oregon Health & Science University het navorsers menslike velselle herprogrammeer om embrioniese stamselle te word. Dié selle kan chemies aangespoor word om enige ander liggaamsdeel se selle te word.
Die implikasie hiervan word nog nie algemeen besef nie. Nuwe selle kan dus aangewend word om byvoorbeeld Parkinson se siekte, rugmurg beserings of veelvuldige sklerose en selfs hartsiektes te behandel.

Die besondere behandeling het ook die voordeel dat daar nie ’n gevaar van verwerping is nie aangesien die pasiënt se eie selle gebruik word.