Spesiale fotosessie : Majubadag – Veldslag herhaal

Die naweek van 22-24 Februarie het ‘n groep CVO leerlinge van Gromar op Groblersdal per bus vertrek na Majuba. Na die lekker rit (met genoeg padkos) moes hulle vinnig die tente uitruk en begin kamp opslaan teen die hange van die geskiedkundige Majuba berg.

Saterdag was ‘n bedrywige dag, aangesien daar ‘n werklike belewing was van die veldslag van Majuba wat plaasgevind het, kompleet met Kakies in hulle bloedrooi baadjies en die Boere-krygers op hul perde met hulle Sanna’s, bandoliere en kenmerkende onderbaadjies.

Die veldslag het vir baie opwinding gesorg, aangesien daar toeskouers was wat nie die donderslae en rook te wagte was nie. Hierdie oefening het die werklikheid van wat daardie dag by Majuba gebeur het baie lewendig voor die leerlinge laat afspeel en hulle kon hul meer inleef in die ware gebeure.

Terug by die huis kon hulle nie uitgepraat raak oor die heerlike kamp en gebeurlikhede nie, en almal is dit eens dat hul nie volgende jaar se kamp gaan misloop nie!