Regverdigheid is ‘n tweerigtingstraat.


“Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel” – Lev 19:15

In die heersende klimaat van liberalisme en humanisme word ons meer en meer gekonfronteer met die idee dat God aan die kant van die onderdrukte, die arme en die swakke is. Hierdie mense word dan “opgehef” ten koste van andere en dit is amper asof dieselfde reëls nie vir hulle geld nie. Hulle gaan deur die lewe met ‘n outomatiese verskoning en versagting voor die gereg. Aan die ander kant kom rykes en kaders met baie weg bloot oor wie hulle is en hoeveel hulle het.

Die Bybel is egter duidelik dat net soos rykes en aansienlikes nie meer voordeel behoort te trek nie, so behoort die geringe ook nie voorgetrek te word nie. God se standaard bly dieselfde en almal word daaraan gemeet. “Ek was honger” gaan nie werk voor die regterstoel van God nie en “Weet jy wie ek is” net so min.