Regeringsvorme – ‘n mening


‘n Vriend vra my na aanleiding van Beatrix se abdikasie of ek dink dat die Britse koningin ook nou die tuig moet neerlê. Hy stem volmondig saam met die onlangse meningsopname van die agentskap YouGov, waarin bevind word dat al meer Britte dit begin verwag van die tannie Bets om terug te staan. En dan moet Charles die stokke vat.

Wat is my mening dan?

Ek is nou nie daai veteraan omroeper op daai ander radio stasie wat ek voorheen geluister het nie. Hy is blykbaar heel ingelig oor die doen en late van die koninklikes. Met tannie Trix se neerlegging van die tuig het hy vir almal wat wil hoor en nie hoor nie, mooi vertel wat gebeur het, so hoor ek. Ek het dit gelukkig net-net gemis.

Om vir my te vra wat is my opinie oor enige van die sogenaamde koninklikes is soos om vir my te vra wat gaan aan in 7de Laan. Ek weet gewoon nie, want ek stel nie belang nie.

Ek het wel ‘n mening oor regeringsvorme, en ek deel toe die volgende met my vriend:

Daar was al vele regeringsvorme in die geskiedenis van die mensdom. Mens kan begin by stamhoofde, daar was rigters, konings, keisers en tsaars. Vele ander. Tans glo die wêreld dat demokrasie nou die regeringsvorm is wat tot die heil van al wat leef en beef is.

Die demokrasie soos dit nou daar uitsien is ‘n klug. Dis gewoon ‘n baie slim manier om die massas te laat glo dat hulle insae gehad het in die daarstel van hulle leiers. Leiers wat nie verantwoording hoef te doen van hulle dade nie… is dit nie maar ‘n diktatorskap nie? Leiers wat die wêreld wil “verbeter” deur mense regte. Menseregte is die stelsel om mense te stroop van eie denke en geloof. Dit maak van die massas beheerbare skape in ‘n kraal.

Diktators. Diktators is almal sleg. Of is hulle? Ek was verbaas om te lees Gadaffi het gesorg dat die mense van Libië gratis goeie gesondheidsdienste gehad het, maklike en goedkoop toegang tot tersiëre opleiding en dat brandstof baie goedkoop was…

Daar is goeie regeerders en slegte regeerders. Ek gee nie veel om wat se bordjie word om die leier se nek gehang nie (of kroon op die kop gesit nie), solank so ‘n leier in die eerste plek volgens die Bybel regeer, en in die tweede plek verantwoording moet doen vir sy doen en late. Volgens my is die naaste wat mens daaraan kan kom die volksraadstelsel wat in die ZAR gebruik was.

Gee dan die nasies hul demokrasieë en ons Volk ons Volksraad. En los tannie Bets en tannie Trix as hulle wil rus. Miskien is hulle ook uitgeput van ‘n lewe van wanvoorstelling.

Die Gereformeerde Kapitalis