Rassediskriminasie?


’n Voormalige landdros, ene Ndileka Ndamase van die Pretoriase landdroshof is voorheen skuldig bevind op 11 klagte van wangedrag. Nou wil sy haar skuldigbevinding tot niet maak want die wit prokureurs en advokate was die klaers en derhalwe is sy die slagoffer van rassediskriminasie.

Ndileka Ndamase vra nou dat die hooggeregshof in Pretoria die bevindinge tersyde moet stel.

Sy sê die voorsittende beampte van die tugverhoor het ’n uitsluitlik wit span daarvoor aangestel. Die aanklaer kon nie Engels praat nie of het doelbewus Afrikaans gepraat.
’n Prokureursfirma het gekla sy gaap skaamteloos, oopmond in die hof.
Sy sê dit blyk die parlement het die kommissie se aanbeveling oor haar afdanking aanvaar sonder om oor die kommissie se onreëlmatighede na te dink.

“Die eerste groot probleem wat ek persoonlik waargeneem het, was dat wit prokureurs, veral wit advokate, ons as swart landdroste ondermyn.”
As sy uitsprake gelewer het wat nie in wit prokureurs se kliënte se guns was nie, het wit prokureurs haar “verskeie kere” in die gange gekonfronteer en gesê sy weet nie wat sy doen nie.
“Met verloop van tyd het wit prokureurs en advokate geweier om voor my te verskyn.”
Ndamase se hofaansoek is dié week onbepaald uitgestel.