Rand op glybaan


Die Rand is besig om in een van sy grootste krisisse sedert 1994 in te beweeg. Die geldeenheid het op 21 Mei die R9,60 grens teenoor ‘n VSA dollar oorskrei en daarna met ongeveer 10c verbeter. Die Rand het laas in 2008 in so ‘n krisis verkeer.

Die onderliggende faktore, wat negatief op die geldeenheid inwerk, bly steeds millitante vakbondoptredes en die gebrek aan wil deur die ANC-regime om die probleme met vakbonde op te los en ‘n meer doelgerigte leiding met politieke sekerheid te verskaf. Die vakbonde ding mee om hulle individuele posisies te verbeter en dit veroorsaak dat die een die ander wil oortref in populariteit waarin millitantheid ‘n rol speel.

Die Minister van Finansies het gewaarsku dat die land naby aan ‘n ekonomiese krisis is met groot skadelike gevolge. Hy waarsku dat besighede hulle deure sal sluit as die probleem nie spoedig opgelos word nie. Volgens hom is dit almal se plig om die probleem op te los, nie net die staat of die privaatsektor of die vakbonde nie. Hy het uitgewys dat daar onthou moet word dat die privaatsektor steeds die grootste werkgewer in die land is. Die verwysing was waarskynlik na aanleiding van die sekretaris generaal van Cosatu, Zwelinzima Vavi, se vyandige verwysing na groot onderneming en wit kapitaliste wat volgens hom in die pad staan van klein besighede se groei.