Petunias .. hoe pragtig en kleurvol in die tuin en handmandjies


Volgens tuinkenners is die droë winter die beste tyd om Petunias te kweek. Petunias is van die Solanaceae familie en Petunias is genus van 35 spesies van blommende plante van Suid Amerikaanse oorsprong. Hulle is naby verwant aan tabak, Kaapse appelliefies, tamaties (glo dit as u wil), aartappels en rissies. Petunias se naam is uit Frans geneem van die woord “petun” wat tabak beteken.

Daar is deesdae soveel nuwe variëteite met groot en klein blomme en die pragtigste kleure by kwekerye te koop. Die maklikste manier om Petunias te groei is met saailinge wat ons by ons kwekerye vind. Hul groei maklik en is geharde plante en moet ten minste 6 ure sonlig kry. Hoe meer skadu hul kry, hoe minder blomme sal hulle voortbring. Hul sal wel in halfskadu aard maar sonlig is belangrik. Die grond hoef ook nie baie ryk te wees waar u die plantjies plant nie. Gee hulle ook maar genoeg water in die warm tye van die jaar, veral in die droë streke van die land. Hulle kan natuurlik van saad ook gekweek word, maar dit neem tot 15 dae voordat die saad ontkiem. Dit is ook goed vir Petunias as ons die droë en dooie blare en blommetjies kan afsny, dit bevorder die groei en dit blom al hoe meer en beter. Hul groei baie goed in hangmandjies en hul groei ook baie weelderig in die tuin en die plant self word nogal groot in die tuin.

Die Petunia kategorië is soos volg:

“Grandiflora” – hierdie tipe Petunia het die grootste blomme wat tot 100mm in deursnee word. Die blomme word maklik deur swaer reën beskadig.

“Hedgiflora” – hierdie Petunias word ook genoem ‘grondbedekkers” omdat hulle laag groei en hulle is rankerig.

“Multiflora” – hierdie Petunias se blomme is die helfte van die grootte van die grandiflora en word 51 mm in deursnee. Hul blomme word nie deur reën beskadig nie. Hulle rank vinnig en is baie goed vir hangmandjies.

“Milliflora” – is die kleinste Petunias. Hulle aard baie goed in potte en kan met ander plante in potte geplant word. Hulle lyk ook die beste in tuinbeddings se randjies. Waar die weer baie sleg is, is dit die beste om hulle tussen grandifloras en multifloras te plant.

Tuiniers, kom ons plant ons tuin en hangmandjies sommer vol Petunias in al die baie verskillende kleure en groottes. Geniet u tuin en onthou om die rypgevoelige plante te beskerm
vir die ergste koue en ryp wat voorlê.