“En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.
–Luk. 24:51-52
Die aanslag van die regering op die Christelike vakansiedae het Christene in Suid-Afrika laat skerm vir die behoud van Kersdag en Paasnaweek, maar een dag wat lank reeds in die slag bly is hemelvaartdag. Mag ons nooit vergeet dat ons Verlosser na die hemel opgevaar het om te regeer aan die regterhand van die Vader en ook vir gelowiges in Hom plek berei nie. Onthou hemelvaart en mag dit ’n geseënde dag wees vir elke gelowige!
Hoe kan ons na regte U eer, Here Jesus, vir die oorwinning wat U oor hierdie wereld behaal het? In U eie geregtigheid het U die volle Wet kom vervul en ons kom bekragtig deur U voorbeeld en opdragte. U wat ons Messias is het ons verheerlikte Koning geword! En hoe sien ons nie uit na die dag wanneer U kom om U koninkryk hier onder ons te kom vestig nie! Kom tog gou, Here Jesus, want ons smag daarna om die aarde te sien; vol van die heerlikheid van God!
Alle eer, krag en heerlikheid aan ons verrese Here Jesus Christus. Amen.