Nuwe opsporingsmetode dalk onwettig


Banke in Suid-Afrika het ’n nuwe manier om voertuie waarvan die paaiemente agterstallig is, op te spoor.

Die nuwigheid word toegepas deur agente wat namens die banke met kameras toegerus word wat voertuie oombliklik kan identifiseer op die registrasienommers.

Dié agente word deur banke aangestel en is nie noodwendig in diens van die bank nie.

Senior lede in die Raad van Balju’s reken die metode is nie wettig nie. Hulle meen ’n voertuig kan slegs deur die balju of die polisie terug geneem word.

Die nuwe tegnologie met kameras is bekend as die International Vehicle Identification Desk (IVID).

’n Woordvoerder van Wesbank sê hulle gebruik die stelsel saam met Business Against Crime, die polisie en ander banke.

Hy het gesê Wesbank gebruik die tegnologie al 14 maande lank en kry maandeliks 90 voertuie terug.

Howard Dembovsky, voorsitter van Justice Project South Africa, het gesê hofbevele moet deur ‘n balju afgelewer word, oorspronklik wees en die stempel van die hof moet daarop verskyn.

Die agente en maatskappye wat hulle huur, doen dit onwettig, het hy gesê.

Intussen het Die Vryburger verneem dat die wanbetalers al weer ’n nuwe metode gevind het om die kamer-tegniek te fnuik. Die voertuig word in ’n ander provinsie op die eggenoot se naam geregistreer met ’n nuwe registrasienommer. Kort daarna word die voertuig weer in die oorspronklike provinsie geregistreer op die eienaar se naam.