NUM gaan Amplats aanvat oor afleggings


Amplats het bekend gemaak dat daar 6 000 werkers afgelê gaan word om die groep weer winsgewind te maak. Dit is ‘n aansienlike vermindering op die 14 000 wat oorspronklik in gedagte was, maar hersien is na vertoë van die ANC-regime. Die 14 000 vermindering sou die sluiting van vier skagte ingesluit het, waarvan een nou oopgehou gaan word. Amplats voorsien dat hulle hestrukturering ‘n vermindering van produksie van ongeveer 250 000 onse per jaar sal meebring vir 2013 met ‘n toename van 100 000 onse per jaar oor die medium termyn.

Die sekretaris-generaal van die Nasionale Unie van Mynwerkers (NUM), Frans Baleni, het op 11 Mei bekend gemaak dat die 6 000 werkers se afdanking onaanvaarbaar is en dat alles binne die raamwerk van die wette van die land gedoen gaan word om dit te verhoed. Dit sal ook stakings insluit. Volgens Baleni het Amplats met hulle aankondiging die “middelvinger” vir die “kritieke belanghebbendes” gewys wat gesonde verhoudinge en arbeidvreedsaamheid ondermyn. Baleni dien op die direksie van Development Bank of Southern Africa en is ‘n lid van die politburo van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party. NUM het verlede jaar gedreig om interne dissiplinêre aksie te neem oor inligting wat aan die koerant M&G uitgelek het oor sy salaris van R1,4-miljoen per jaar as sekretaris-generaal van NUM.