Nog feite hoe ANC witmense misbruik


Die Vryburger het reeds hierdie week berig oor verarmde blankes wat deur die ANC misbruik is om by dié party se konferensie te wees onder valse voorwendsels.
Intussen het nuwe feite aan die lig gekom.

Die blankes wat deel van die ANC se sogenaamde “huur-’n-witte-plan” op sy Vrystaatse konferensie was, is nou hewig ontstoke.
Hulle sê die ANC het vir hulle gelieg.

Die mense is van die armste inwoners uit verskillende dorpe in die Vrystaat wat met busse en minibusse aangerys is saam met ander ANC konferensie gangers.

Hulle sê hulle het net ingestem om die konferensie by te woon omdat daar aan hulle kospakkies en komberse belowe is.

Van die blankes het gesê hulle is onder die indruk gebring dat hulle net sowat ’n uur by die ANC konferensie sal wees waar kospakkies en komberse aan hulle uitgedeel gaan word.

“Ons moes die hele dag daar sit, vir foto’s ‘poseer en vir die kameras glimlag. Al wat ons gekry het, is water. Niks meer nie,” het een blanke gesê.