Motor rubriek – SUBARU FORESTER 2,0 XT


Sedert die verskyning van die Subaru Forester in die nutsmark het dit bekendheid verwerf vir die betroubaarheid as ’n voertuig wat op enige terrein gebruik kan word. Dit is ewe tuis op die normale pad as wat dit tuis is in die veld.

Dit is die 4 de generasie voertuig en met die turbo aangejaagde 2.0 liter Boxer enjin, is dit in staat tot groot dinge. Die ontwerp is gewysig en die deuropeninge is groter met die gevolg dat toegang tot die binneruim aansienlik makliker is. Die bestuursposisie is hoër en gemakliker wat daartoe lei dat die sig na buite aansienlik verbeter het.

Wat veiligheid aanbetref skort daar min. Die permanente 4 – wiel aandrywing verseker goeie padgedrag en stabiliteit. Die remvermoë is uitsonderlik en daar is nie fout mee te vind nie. Met sewe lugsakke geïnstalleer is daar ook voorsiening gemaak vir die passasiers se veiligheid wanneer die voertuig in ’n botsing betrokke is.

Die brandstofverbruik het aansienlik verbeter met die herontwerpte vier silinder Boxer enjin en verbruik syfers van 10,2 L/100 km word genoem. Die krag beskikbaar is ’n handige 177 kW met wringkrag van 250Nm. @ 2500 o.p.m. Voorsiening is ook gemaak vir beter veldry toestande en die grondvryhoogte is ’n handige 220 mm.

Teen ’n prys van R529,000 is dit nie ’n goedkoop voertuig nie maar vir die Subaru entoesias is dit goeie waarde vir geld.