Motor rubriek – JAGUAR XJR


Jaguar het deur die jare bekendheid verwerf as ’n motor met uitsonderlike eienskappe en van die getroue Jaguar liefhebbers sal met genoegdoening kennis neem van die verbeterings wat aan die vlagskip XJR model aangebring is. Luuksheid, rygerief en talle ander eienskappe is alombekend as integrale deel van hierdie motor.

In die heel nuutste weergawe XJR model is daar aanpassing gedoen aan die enjin en die werkverrigting is aansienlik verbeter. Die drukaangejaagde enjin ontwikkel 405 kW en daar is 680 Nm. wringkrag beskikbaar. Die 5,0 liter V8-enjin stel die voertuig in staat om van 0 tot 100km/uur te versnel in 5,0 sekondes.

Om hierdie kraglewering na behore te kan aanwend is daar verskeie ander veranderings aangebring. Die veringstelsel as geheel is opgegradeer en ook die remme en stuurstelsel.

Van die kosmetiese opgraderings sluit in 5 speek allooi wiele wat ‘n antrasiet kleur geverf is. Die voorste luginlate is bedek met swart maasdraad en sluit chroom afwerking in. Die afwerking van hierdie voertuig is van besonderse hoogstaande gehalte en die eienaar van hierdie spog voertuig kan werklik trots wees daarop om so ’n vuurwa te besit.