Motor rubriek –EMGRAND EC 7 1,8 liter


’n Aantal jare gelede het die Sjinese die motormark in S.A. betree en verskeie produkte het hulle verskyning gemaak. Een van die bekendstes is die Geely. Vir ’n tyd lank was dit taamlik wankelrig maar dit het verbeter en alhoewel die nodige vertroue somtyds ontbreek, het daar met die tyd ’n verbetering ingetree sover as afwerking aanbetref.

Die jongste toevoeging, wat onder die vaandel van die Geely gaan verskyn, is die Emgrand EC 7. Die grootte daarvan is vergelykbaar met die van die Corolla. Die afwerking voldoen aan die van ander voertuie in die prysklas. Die bakpanele is goed gepas en vorm vloeiende lyne sonder enige slordige skerp hoeke.

Selfs die plastiek afwerking is van hoogstaande gehalte en hoewel dit nie ’n “sagte gevoel” afwerking is nie, voldoen dit aan die nodige vereiste vir daaglikse gebruik.

Die bestuur indrukke tot dusver is baie gunstig. Na verneem word is die padgedrag van hoogstaande gehalte en kon daar min kritiek gelewer word. Wat wel opmerksaam was, is windgeraas wat voorkom wanneer die snelheidsperk van 120 km/u. oorskrei word.

Daar is twee modelle beskikbaar naamlik die Luxury en Executive. Die binneafwerking van beide is van goeie gehalte en die leerbedekte sitplekke van die Luxury model is gerieflik en gemaklik.

’n 1,8 liter, 4 silinder petrolenjin is gepas en is gekoppel aan ’n 5 spoed handratkas. Die beskikbare wringkrag is 172 Nm. @ 4200 o.p.m. Die vervaardiger maak aanspraak op ’n brandstofverbruik van 7,2 l/100 km. Die prys van die Luxury model is R149,000 en die van die Executive model is R164,000.