Motor rubriek – ALFA ROMEO 4C


Alfa Romeo motorvervaardiger is bekend daarvoor dat daar altyd iets nuuts uit hierdie Italiaanse stal te voorskyn kom. Twee jaar gelede is die 4C konsep model aan die motor- publiek bekend gestel in Geneva. Sedertdien is daar verskeie veranderings aangebring en die motor is gereed vir vervaardiging.

Dit is ’n liggewig sportmotor met ’n indrukwekkende werkverrigting. Vir ’n begin word daar ’n 1000 voertuie gebou en beskikbaar gestel aan die Alfa Romeo entoesiaste teen ’n prys van nagenoeg R600,000. In Italië sluit die prys ’n hoë werkverrigting bestuurs-kursus in wat die eienaar in staat sal stel om die motor tot sy volle potensiaal te kan gebruik.

Deur gebruik te maak van liggewig boumateriaal soos aluminium en karbonvesel was dit moontlik om ’n motor te bou wat slegs 895 kg. weeg. Karbonvesel is gebruik vir die voor en agter suspensies. Voor suspensie maak gebruik van dubbel wensbeen-stelsel en die agterste suspensie maak gebruik van beproefde MacPherson stelsel. Die voertuig word gebou in die Maserati-aanleg in Modena Italië.

Die direkte inspuiting, turbo aangejaagde, 1750 cc petrol enjin is in die middel van die bakwerk gemonteer. Die kraglewering is ’n indrukwekkende 180 kW met ’n wringkraglewering van 350 Nm. en dit word na die agterwiele oorgedra deurmiddel van Alfa se TCT dubbel, droë koppelaar, ratkas.

Geventileerde skyfremme word voor en agter gebruik. Op die voorwiele word Brembo se viersuier aluminium knypers gebruik om die remwerk te verrig. Voor en agterwiele se groottes verskil om beter padhouvermoë te verseker. Die vervaardiger maak daarop aanspraak dat die Alfa Romeo 4C van 0 tot 100 km/u versnel in 4,5 sekondes met ’n topsnelheid van meer as 250 km/u.