Moenie opspring nie!


Die eerste woorde wat Zuma aan die hoofaartappel gesê het toe die ANC Lyerskorps hom besoek het, was waarskynlik: Moenie opspring nie. Ongelukkig het hy verder gegaan en ook nie sy hand uitgesteek of gepraat nie. Wel ‘n bietjie gekwyl en so aan, maar op ‘n baie vrolike manier.

Die ANC vertel vir die wêreld dat Mandela in ‘n opgewekte , vrolike en geselserige bui was, ‘n komediestuk opgevoer het en daarna ‘n aerobics klas gelei het, maar nadat beeldmateriaal uitgesaai is van die besoek, het die mense tekere gegaan oor die ANC se opsomming van die situasie. Die ou aartappel sit doodstil en is salig onbewus van wat rondom hom aangaan. Miskien het hulle net die deel uitgesaai waar hulle stomstreke gespeel het en Mandela ‘n klip moes uitbeeld.

Dit is egter heel moontlik ‘n eerlike fout. Zuma het dalk net die knip van die aartappelogies vir die kameraflitse aangesien vir van die beste morse-kode grappies wat hy nog ooit gesien het! Tog het Zuma self op ‘n stadium bekommerd geraak want dit lyk of hy hard probeer het om seker te maak dat daar nog ‘n polsslag by die ou kommunis was. Miskien was hy in ‘n geselsbui in sy pit, maar het net nie meer beheer oor sy mond nie.

Die ander moontlikheid is natuurlik dat hy niks makeer nie, maar net nie lus was om geselsies te maak met die onbevoegste klomp politici wat nog in een vertrek bymekaar was nie. Ek sou dalk ook groente-groente gespeel het.
Jackson Mthembu het wel die versekering gegee: “Die stories dat Mandela minder reaksie getoon het as die standbeeld van die mitiese hoofman tshwane is vals, onwaar, bog, snert, strooi, van alle waarheid verwyderd en twak, maar ek was nie self daar nie, maar Zuma se assistent het self vir my gesê dat hy dit by sy motorbestuurder vertroulik verneem het wat hy eerstehands by die lyfwag gehoor het en Zuma het nog nooit ooit vir iemand gejok nie!”
Een ding is seker, as dit by Mandela kom sal die ANC nie doekies omdraai nie, daar is seker darem verpleegsters wat dit vir hom doen!

Tot volgende slag

Die Sweep