Klein arsenaal wapens en ammunisie in Oos-Kaap gevind


Vuurwapens en ammunisie is op verskillende plase in die Oos-Kaap opgegrawe.

Lt.kol. Annelie Wrensch, die provinsiale polisiewoordvoerder, sê dat vier mans, Mark Trollip, John Martin Keevy, Johan Prinsloo en Hein Boonzaaier, word verdink dat hulle ook op een of ander wyse daaraan verbind is.

Die vier mans is in Desember verlede jaar in hegtenis geneem aangesien hulle na bewering Jacob Zuma en nog ANC-hooggeplaastes tydens die ANC se leierskonferensie op die kampus van die Universiteit in Bloemfontein om die lewe wou bring. Plan B was glo om Zuma, asook ministers en ander ANC-lede op kort afstand te skiet.

Wrensch sê die polisie vermoed die wapens sou vir die “slag van Mangaung” gebruik word om die ANC-leierskorps uit te skiet.

Die vier mans verskyn weer in die hof op 24 Mei op aanklagte van hoogverraad.

Twee R1-aanvalsgewere, jaggewere, talle handwapens, ammunisie en magasyne is van die wapens wat op vier plase in die Aberdeen- en Graaff-Reinet-distrikte opgegrawe is. Die ammunisie was glo in plastiek koeldrankbottels verpak voor dit begrawe is.

’n Ondersoek om nog wapens, ammunisie en ander plofstof op te spoor duur voort.