Kernkragontwikkeling steeds omstrede


Alles dui daarop dat die Departement van Energie nie maklik hulle planne vir die bou van nuwe kernkragsentrales sal prysgee nie. Die departement se minister, Dipuo Peters, het die parlement onlangs meegedeel dat kernkrag nie ‘n vraag van “of” is nie, maar ‘n “wanneer”. Dieselfde voornemens is deur Peters se direkteur-generaal, Nelisiwe Magubane, aan die parlement meegedeel met die boodskap dat kernkragsentrales ononderhandelbaar is.

Die omstredenheid teen die planne kom uit verskeie oorde waarvan een binne die ANC-regime is. Die buite-besware kom veral van omgewingsorganisasies, waaronder ook WWF-SA, wat besorg is oor die impak van kernkrag, wat nie net oor korttermyn gevare gaan nie, maar veral ook oor die langtermyn besoedelings gevolge wat vir baie duisende jare aan die nageslag oorgedra word.

Die regime se Nasionale Beplanningskommissie (NC) verskil oor die dringendheid en noodsaaklikheid van kernkragontwikkeling en die finale besluit oor die ontwikkeling sal afhang van wie van die twee departemente die grootste seggingskap sal hê. Die NC se studies dui daarop dat die Departement van Energie se beplanning verouderd is, en dat sulke drastiese besluite soos kernkrag eers teen 2029 nodig is. Kundiges het ook al voorheen daarop gewys dat kernkragsentrales, wat baie duur is, die geneigdheid het om aansienlik meer te kos as wat beplan word en ook heelwat langer neem om in bedryf te kom. Die beplande kernkragsentrales se koste wissel tussen R400-miljard en R1 000-miljard.