Instroming uit Afrika duur voort


Derduisende Angolese burgers wat tans in Kaapstad is, se verblyfreg as sogenaamde vlugtelinge, verval eersdaags.
Dié vlugtelinge se status verval binnekort en nou word die eerste geluide gemaak dat hulle nie wil terugkeer na hulle land nie.

Organisasies wat met Angolese vlugtelinge werk, krap kop nadat die kabinet besluit het die vlugteling status verval op 31 Augustus.

Daar is nou teenstrydighede wat waarskynlik dui op swak administrasie en kommunikasie in verskillende owerheidsinstellings aangesien daar vlugtelinge is wat oor dokumente beskik wat hulle verblyfreg se verval eers in 2015 aandui terwyl ander s’n op 31 Mei verval.

Berigte is ontvang dat verblyfreg verleng gaan word tot 31 Augustus.
Intussen is daar spanning waarneembaar onder inwoners in die Wes-Kaap wat meen die Angolese is indringers wat hulle van werk beroof.

Ontevredenes wil nou ’n betoging by die parlement hou en ’n memorandum van beswaar aan die regering oorhandig.

Braam Hanekom, die direkteur van die organisasie Pasop, sê die vlugtelinge kan om permanente verblyf aansoek doen, of aansoek doen vir werkpermitte of terugkeer na hulle land.