Indiërs betree melkbedryf


Wenkbroue lig oor die multi-miljoen Rand suiwelprojek se lewensvatbaarheid naby Vrede in die Vrystaat wat onlangs deur die Departement van Landbou en Landelike ontwikkeling begin is.

Salam Abram, ANC-LP en lid van die portefeuljekomitee vir landbou reken dit verg groot kapitaal om ’n suiwelbedryf te begin en derhalwe word miljoene Rand in die besondere projek ingepomp.

Volgens Moliehi Tlhobelo, woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Landbou en Landelike ontwikkeling, sal R114 miljoen per jaar vir die volgende drie jaar spandeer word aan die projek.

Tlhobelo het bevestig dat ’n Indiese maatskappy, bekend as Estina Pty Ltd/Paras, hulle daartoe verbind het om ’n sowat R200 miljoen in die oprigting van die suiwel-verwerkingsaanleg te belê.

Abram, is skepties oor die projek. Hy meen die geld moes eerder gebruik gewees het om klein boere 9swartes) te help.

Meningsvormers en kenners in die suiwelbedryf sê dit is ’n uitgemaakte saak dat die projek sal misluk as daar nie gebruik gemaak word van kundiges wat die suiwelbedryf in al sy fasette ken nie.

Die projek word op die Krynaauwlust-plaas 275 in die Vrede-distrik begin wat deur die munisipaliteit besit word.