Hy sal jou aan die hakskeen byt


Oor eeue heen is die mens en die slang vyaandig teenoor mekaar. Die kenner van slange, mnr. Johan Marais het belangrike inligting verskaf oor slange. Die inligting behoort onder die aandag te kom van elke mens want daar kom ’n dag wat die twee “aards vyande” mekaar te siene kry.

Moenies:
• Moenie die deel wat gebyt is probeer afsny of die gif probeer uitsuig nie. Volgens Marais is dit nutteloos en verwyder dit nie groot hoeveelhede gif nie.
• Moenie ’n klemverband oor die wond sit nie.
• Moenie paniekerig raak nie. Dit jaag jou hartklop op en kan moontlik die gif vinniger versprei.
• Moenie aan die slangbyt vroetel nie.
•  Moenie self teengif inspuit nie. Dit kan slegs deur ’n dokter gedoen word. In 80% van slangbyt gevalle is dit nie eens nodig nie.

’n Moet
• Kry die slagoffer so vinnig as moontlik by ’n hospitaal met ’n intensiewesorgeenheid.
• Hou die mens wat gebyt is rustig en kalm.
• As die slagoffer op sy hand gebyt is, verwyder alle ringe.
• Indien die slagoffer sukkel met asemhaling, pas mond-tot-mond-asemhaling toe.

Feite oor slange
•  Slange beweeg nie in pare nie.
• ’n Pofadder val die vinnigste aan. Dié slange val nie agteruit aan nie.
• Slange se sig is nie swak nie.
• ’n Mens kan nie spesiale blomme plant om slange uit jou tuin te hou nie.
• ’n Slang sal nie op jou afseil om jou aan te val nie.
• ’n Mosambiekse spoegkobra kan ’n maksimum van drie meter ver spoeg en dié slang is verantwoordelik vir die meeste slangbyte in Suider-Afrika.