Handelstekort krimp


Maart se Suid-Afrikaanse handelstekort het effens verbeter tot R7,77-miljard teenoor Februarie se R9,52-miljard. Daar was verwag dat Maart op R8,5-miljard negatief sou eindig. Uitvoere vir Maart het met 2,9% gestyg, terwyl invoere met 0,3% gedaal het.

Die jaar-tot-jaar se negatiewe handelsbalans van R41,8-miljard, teenoor die R25,6-miljard van dieselfde tydperk verlede jaar bly steeds ‘n kopseer. Die ongunstige posisie het nie net ‘n negatiewe invloed op die land se geldeenheid nie, maar veroorsaak ook rentekoers druk op staatslenings wat opwaarts neig, alhoewel dit op hierdie stadium nog in ‘n geringe mate is.

Indien die land se kredietgradering in die loop van die jaar weer negatief aangepas sou word weens die opbouende negatiewe betalingsbalans, aangehelp deur die swak ekonomiese groeikoers en ongunstige politieke faktore, kan dit die langtermyn staatlenings se rentekoerse verder laat styg. Die land se ekonomiese vooruitsigte bly dus steeds onder druk vir die korrttermyn.