Groot mediese deurbraak by Vrystaat Universiteit


Prof. Lodewyk Kock wat verbonde is aan die Universiteit van die Vrystaat het met sy span navorsers waarskynlik een van die mees opspraakwekkende deurbrake gemaak wat nog in die toekoms gebruik kan word in die bestryding van kanker.

Die navorsers het ’n studie gedoen waarin die borrels in sjampanje nagevors is om te bepaal wat veroorsaak die borrels.
Die, op die oog af, eenvoudige stuk navorsing, het daartoe gelei dat nanotegnologie gebruik kan word in die behandeling van kanker.

Prof. Kock tesame met sy navorsers van die Departement Mikrobiese, Biochemiese en Voedselbiotegnologie, asook die Departement Fisika, sowel as die sentrum vir mikroskopie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het die studie gedoen oor gis-selle in wyn en kos.

Die doel was om te bepaal waar die borrels vandaan kom wat gis help om gas te vervaardig wat brood laat rys en sjampanje laat bruis.

Met nanotegnologie genaamd Auger-argitektomika het die navorsers vir die eerste keer argongas gebruik om gis-selletjies oop te maak.
Met dié tegnologie kon die navorsers strukture van ’n miljoenste van ’n millimeter binne-in die selletjies waarneem.
Binne-in sulke selle kon hulle ’n doolhof van klein gangetjies soos gaskamers vind wat elke sel “lewendig hou en laat asem haal”.
Dit is hierdie funksie wat die vonkel in sjampanje bring en wat brood laat rys.

Met die kennis kan daar nou verder gewerk word om elke kankersel in die menslike liggaam te monitor en bepaal wat die vordering op bepaalde behandeling is.
Prof. Kock sê dit gaan deure oopmaak maar dit gaan nuwe rigtings in navorsing beteken.
“Daar is nog groot moontlikhede wat kom,” het hy gesê .