Foutbal


Boks:
Saterdagaand het Wladimir Klitcko sy titel as swaargewig bokskampioen van die wêreld behou nadat hy die redelike onbekende Francesco Pianeta in die sesde ronde uitgeslaan het. Die Italianer, Pianet, was onoorwonne is sy vorige 29 gevegte. Hy was egter net nie in dieselfde klas as die wêreldkampioen nie. Bygesê, moet daar erken word dat daar nie op die oomblik iemand is wat lyk of hy die titel van Klitcko sal kan afneem nie.
Doktor Staal Hamer het nou ’n rekord van 63 gevegte, waarvan hy 60 gewen het en slegs 3 verloor het. Die laaste keer wat hy aan die verloorkant was, was in 2004.

Super Rugby:
Die WP het hierdie week die onderspit gedelf teen die Blues van Nieu-Seeland. Jean de Villiers het twee uitstekende drieë gedruk, maar dit was nie genoeg om die WP aan die wenkant te plaas nie. Al die Blues se punte is aangeteken deur die skopvoet van Chris Noakes, wat ses strafskoppe behaal het. Dis ook ’n nuwe Blues rekord. Die telling was 18-17.

Natal is steeds besig om ’n nagmerrie van ’n seisoen te beleef. Hulle het Saterdag teen die Highlanders, wat tans aan die onderpunt van die punteleer is, verloor. Dit was die eerste keer hierdie seisoen wat die Highlanders aan die wenkant was. Beide spanne het 3 drieë aangeteken, met Meyer Bosman wat twee keer agter die doellyn gaan kuier het. Die telling was 25-22.

Die OP het nou met die harde werklikheid van Super rugby kennis gemaak. Die meeste mense het voor die seisoen hierdie soort van telling verwag, maar tot dusvêr het die OP beter gespeel as wat verwag is. Saterdag het die Waratahs hulle egter ’n drag slae in PE gegee wat hulle nog lank gaan onthou. Die telling was 72-10.

Noord-Transvaal het ’n puik wedstryd teen die Hurricanes opgedis. Hulle het ’n allemintige ses drieë gedruk om met 48-14 te wen. Dit plaas hulle tans aan die bokant van die Suid-Afrikaanse punteleer.

Ander uitslae:
Rebels 33-39 Chiefs
Force 11-11 Reds
Brumbies 23-30 Crusaders

Vodacom Beker Rugby:
Die kwarteindstryde van die Vodacom beker het hierdie naweek plaasgevind. Die uitslae was as volg:
Natal 25-42 Transvaal
Oos-Transvaal 44-37 Pampas
WP 21-13 Griekwas
Noord-Transvaal 31-34 OP