Emosie oor landboulone wek kommer


TLU SA spreek sy ernstige kommer uit oor die rigting waarheen die proses in verband met die problematiek rondom lone op plase beweeg. Die Hoofbestuurder van TLU SA, mnr Bennie van Zyl, het na afloop van die vergadering in De Doorns sy ongemak uitgespreek oor verskeie aspekte wat al hoe duideliker na vore kom.

Die vakbonde en ook regeringswoordvoerders meld dat hierdie emosionele opwelling geensins polities geinspireer is nie, maar die uitsprake gemaak spreek van die teendeel. Dit is onbillik dat politieke partye en hul bondgenote daarmee volhou om landbou die speelbal te maak van hul politieke onverdraagsaamheid.

TLU SA het hom verbind om deur ASUF die situasie aan te spreek en is daar besluit om die regering te versoek om tafel toe te kom met insette van hul kant oor hoe kan die landbouer se winsgewendheid herstel kan word na die afkondiging van die nuwe Sektorale Vasstelling wat ‘n 52% verhoging in lone afgedwing het. Die vae insette wat wel tafel toe kom plaas die gemiddelde boer in geen beter posisie nie. Deur te sê die oplossing is dat die werkers se omstandighede moet verbeter en dat die boere en arbeiders moet saamwerk verander niks aan die boer se winsgewendheid nie, dit kan meebring dat dit eerder versleg.

Vakbonde se onrealistiese eis dat die lone na R150 per dag moet styg anders gaan hulle weer strate toe bring net die besef hoe onverantwoordelik hul met hul lede se werk omgaan in ‘n tyd wat daar aangekondig is dat die werkloosheid gestyg het tot 25,2%. Hierdie situasie stuur daarop af dat die vakbonde mettertyd ‘n groep werksoekers sal verteenwoordig, want hul het deur hul toedoen meegehelp dat al hoe meer werkers op plase afgelê gaan word.

Mnr van Zyl het opnuut dit bevestig dat elke plaas ‘n besigheidsentiteit in sy eie reg is en besluite rondom sy winsgewendheid moet neem met die kapasiteit waaroor daar beskik word. Geen plaas kan met ‘n ander vergelyk word nie en is die veralgemening van die hantering van plase onaanvaarbaar. Vir ‘n plaas wat kan meganiseer en dit moet opweeg met ‘n onstabiele werkersmag geskep deur die vakbonde is die besluit op die einde van die dag baie maklik. TLU SA bevestig dit dat die werkerskorps op plase wat oor jare gevestig is in ‘n bepaalde positiewe verhouding met hul werkgewers staan en dat die landelike lewenswyse ‘n keuse is wat duidelik nie deur die vakbonde gerespekteer word nie. Indien enige werker nie hom of haar daarmee kan vereenselwig nie staan dit hul vry om enige ander werk te gaan soek.