Ek sien dit so!


Neelsie het hierdie week ‘n uiters belangrike boodskap aan elkeen van u. Die tyd het weer aangebreek vir elke vryheidsgesinde volksgenoot om aan die werk te spring.
Die volgende Volksraadsverkiesing, gefasiliteer deur die VVK oftewel Volksraad Verkiesingskommissie, word vir volgende jaar beplan. Dit beteken dat ons almal weer betrokke moet raak om oningeligte volksgenote in te lig, en hulle te laat registreer op die kiesersrol. Sonder om snedig te raak, wil ek darem net noem dat elkeen wat enigsins erns het met die lot van ons mense, hulle kant sal moet bring. Daar is nie meer tyd vir draadsitters en toeskouers nie. Hierdie is ‘n spansport, hierdie is ‘n Volksport.

Op hierdie stadium is daar nagenoeg 40 000 geregistreerde kiesers op die rol. Nie te sleg as in ag geneem word dat hierdie getal bereik is deur vrywilligers wat hul volk se vryheid nastreef nie. Dit is egter nog nie naastenby die getal wat ons sou wou hê nie, meer stemmers gee die verkose Volksraad ‘n sterker hand. Ons kan dit seker ‘n rippel-effek noem. Die volk steun die Volksraad, die Volksraad voer die volk se opdragte uit, en as alles goed afloop wen die volk sowel as die Volksraad. Ons moet een ding in gedagte hou, as ons nie nou opstaan en iets daadwerkliks aanpak nie, gaan ons miskien oor vyf jaar hopeloos te min mense oorhê om enige aksie te laat slaag.

Hiermee doen Neelsie dan ‘n beroep op elke leser van Die Vryburger om in kontak te tree met die VVK sodat die getal van 40 000 binne die volgende jaar kan groei tot ‘n indrukwekkende 300 000 of selfs meer! Talle volksgenote berus in die gedagte dat hulle slegs hoef te bid en God sal vir die res sorg, ek is baie jammer, maar dit is die swakste verskoning wat ek nog ooit gehoor het van ‘n luiaard wat agteroor wil sit sodat ander alleen die werk moet doen. Vryheid word nie net gegee nie, dit word verdien.

Staan op en word getel, gee vandag vir jou kinders rede om eendag verhale van durf en daad aan jou kleinkinders oor te vertel. Indien jy nie lus het om te stry vir iets so eerbaar soos vryheid vir jou eie mense nie, sal jou kleinkinders sekerlik met die nagevolge van hierdie generasie se swak besluite sit. Asseblief mense, moenie net lees en dan maar voortgaan deur niks te doen nie. Dink hieroor en raak betrokke…voor dit te laat is.

Boeregroete,
Kordaat Neelsie