Die Volk in beweging


Te midde van talle hindernisse, is die Boere-Afrikaners aan die beweeg – en die beweging is doelgerig vorentoe.

In hierdie week se uitgawe van Die Vryburger sal u lees hoe die dames van die Republikeinse vrouebeweging hulle kragte aanwend om Republiek-fees te vier, hoe die Verkenners die Slag van Donkerhoek herdenk, en ander inisiatiewe wat prysenswaardig is.

Die verblydende nuus is dat, in teenstelling met die rooi-Aprilmaand (of is dit swart?) wat betref die moorde op volksgenote, is Meimaand aansienlik stille tot en met die ter perse gaan van hierdie skrywe. Die gewelddadige aanvalle op volksgenote is steeds hemelhoog, maar die feit dat slagoffers lewendig anderkant uitgekom het, spreek van Genade van Bo en ook paraatheid van mense.

Die aanslag op Kleinfontein is maar net nog ’n bewys dat hier nie simpatie of begrip of respek vir Grondwetlike regte verwag kan word uit die kamp van die ANC en sy meelopers nie. Lees gerus die reaksie van politieke partye in hierdie verband.

Gwende Mantashe se uitlating dat mense met geld enigiets en enigiemand koop kan koop laat die wenkbroue lig. Dit mag sy siening wees maar derduisende sal daaroor met hom verskil.

Die berig oor die gewildheid van Suid-Afrika se boere is nie net insiggewend nie maar wek ook kommer as die toekoms van landbou in ag geneem word. Die owerheid se grondgryp beleid is grotendeels verantwoordelik dat boere die land verlaat om elders ’n heenkome te vind waar sy kundigheid waardeer sal word.

Die mening wat gegee word oor Somaliland wat reeds 22 jaar onafhanklik is sonder internasionale erkenning, behoort vir elke leser wat streef na vryheid, bemoedigend te wees.

Of die regering ag gee om die woorde van Moeletse Mbeki, word betwyfel, maar die ANC sal sekerlik nie kan ontken nie – Mbeki se kritiek is in die kol.

Die Vryburger het hierdie week ’n promosie geplaas om Volkshulp 2000 aan lesers bekend te stel. Hierdie volkseie welsynsorganisasie wat sy werk uit die volk vir die volk verrig, is afhanklik van u wat hier lees om te help.

Die Vryburger doen derhalwe ’n beroep op volksgenote om behulpsaam te wees – skenkings van klere, skoene, artikels wat in onbruik by u is, is alles goed wat Volkshulp met graagte sal ontvang. Die winter is lank en koud en honderde klein kindertjies van ons volk gaan soggens op ’n leë maag skool toe, is dikwels maar karig geklee en half verkluim.

Daarom het ons almal ’n plig, want ons het genoeg om van te leef!

Mag u met hierdie uitgawe weereens besef dat ons volk ’n stryd het om te stry, om adellik aan daardie stryd deel te neem sodat die waardigheid van ons volk daardeur bevoordeel sal word,

Die vryheidsvlam sal bly brand solank ons eerbaar handel – en ons is opgewonde omdat die volk in beweging is op pad na ’n vasgestelde bestemming.

Redakteur