Chaos in staatshospitale


Die chaos in staatshospitale word weerspieël in die feit dat mense wat lewensbelangrike chirurgie in Sentraal Transvaal moet ondergaan, nie geholpe kan raak nie omdat die agterstand te groot is. Mense wag tot nege maande of langer om vir hartverwante kwale geopereer te word.

Die skokkendste is dat die agterstand nou so groot is dat na raming 10,000 pasiënte op dié provinsie se waglys is om chirurgie te ondergaan.

Die Departement het erken hy kan nie voorbly met operasies nie.
Hope Papo, die betrokke LUR, het in ’n geskrewe antwoord bevestig dat die waglys 1,662 mense bevat wat heupvervangings moet kry.
Byna 2,000 wag vir knie-operasies, 560 op hartverwante operasies, 56 op rugoperasies en byna 6,000 wag op katarak-operasies.

’’n Bekende geneesheer van Pretoria sê die toestand gaan net erger word omdat verantwoordelike, en goed opgeleide personeel nie meer vir staatshospitale wil werk waar die chaos al groter word nie.