Boekhouer besteel rykmansbuurt


Die boekhouer van Silver Lakes-landgoed in Pretoria, Marlene du Plessis, is afgedank nadat bewyse gevind is dat sy moontlik bedrog van meer as R7 miljoen gepleeg het.

Van die totale bedrag is R2,8 miljoen glo in die afgelope finansiële jaar geswendel, het dr. Steven Pretorius, van die Huiseienaarsvereniging se raad, gesê.

Hy sê ’n bedrogsaak is by die polisie se handelsmisdaadeenheid aanhangig gemaak teen die boekhouer.

Sy het blykbaar bewys gelewer dat betalings aan diensleweraars gedoen is, maar na bewering die begunstigdes se bankbesonderhede met haar eie vervang.

Die interne ouditproses het gewys dat bedrog gepleeg is.