Bloubergstrand hotel word opgeveil


Die Realcor-hotelgebou in Bloubergstrand word eersdaags (23Mei) op ’n veiling verkoop.

Die Uitvoerende Hoof van ClareMart, wat die veiling hanteer, het gesê ’n groot belegger kan die gebou selfs as basis gebruik om in ’n luukse- woonstelle te omskep aangesien die perseel sodanig gesoneer is.

Argitekte het blykbaar reeds bekend gemaak dat die omskakeling moontlik is.

Die groot strukturele werk aan die gebou is reeds voltooi. Die meubels, spieëls, elektriese- en al die badkamer toerusting word saam met die gebou opgeveil.

Beleggers het sowat R650 miljoen in die hotelgebou belê. Die gebou sou 144 hotelkamers hê in drie verdiepings en daar kon ses luukse suites en twee dakwoonstelle ingerig word.

Die bedrag waarvoor die hotel opgeveil word, sal ’n aanduiding wees van hoeveel sent uit die Rand beleggers kan verwag.

Kenners in die eiendomsmark meen beleggers kan hulleself gelukkig ag as hulle 10% van hulle geld terug kry.