BBP struikel


Volgens syfers van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) wat op 28 Mei deur Statistiek S.A. vrygestel is, was die eerste kwartaal vir 2013 die swakste in vier jaar met ‘n kwartaal-op-kwartaal syfer van slegs 0,9% teenoor die vierde kwartaal van 2012 se 2,5%.

Op ‘n onaangepaste jaar-op-jaar basis staan die BBP op 1,9% teenoor die vorige jaar se vergelykende syfer van 2,5%. Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het reeds sy verwagte groeikoers vir die jaar afwaarts aangepas van 2,7% na 2,4%. Daar word ‘n beter prestasie vir die tweede kwartaal in vooruitsig gestel na die paasnaweek wat produksiedae in die eerste kwartaal verminder het. Die belemmerende invloed van die millitante vakbonde bly steeds ‘n onbekende faktor wat die vooruitsigte kan benadeel, soos wat in die eerste kwartaal die geval was.

Die Suid-Afrikaanse Rand het tot ‘n nuwe laagtepunt geduik na die bekendmaking van die nuutste BBP-syfer en het op R9,75 teenoor die VSA dollar gedraai, met R12,59 teenoor die Euro en R14,71 teenoor die Pond. Die dienste-, groothandel-, motor-, akkommodasie-, vervoer- en kommunikasiesektore het positief tot die groeikoers bygedra. Landbou-, vissery-, energie en watersektore het negatiewe bydraes gelewer.