Bankia se aandele tuimel


Die vierde grootste bank in Spanje, Bankia, wat in 2011 gered moes word van ineenstorting, het op 28 Mei meer as 11-miljard se aandele aangebied om €15,5-miljard te bekom om die bank te herstruktueer. Die uitgifte het veroorsaak dat Bankia aandele se eenheidsprys drasties verminder het.

Die openingsverhandeling was 20% laer as die aangebode aandeleprys, voordat daar ‘n mate van herstel ingetree het en die aandele om 7:10 teen €0.55 opgeneem is. Die nuwe aandele is aangebied teen €1.35 met ‘n boekwaarde van €1.00. Kundiges voorspel dat die aandele teen tussen €0.40 en €0.60 sal verhandel. Teen 09:00 was daar ongeveer 10% van die aandele opgeneem wat aangebied word.

Bankia het ‘n groot bydrae gelewer tot Spanje se ekonomiese krisis. Die bank se reddingspoging het uitgeloop op ‘n samesmelting met sewe vorige streekspaarbanke en nasionalisering. Sedert hernotering in Julie 2011 het Bankia se waarde op die aandelebeurs met 99% gedaal.

Daar word voorspel dat daar nog ‘n lang opdraende stryd vir Bankia voorlê weens die ekonomiese probleme in die EU en veral in Spanje.