ANC regering staan bont oor Gupta-fiasko


Die ANC regering het noodgedwonge ’n geheime vergadering van senior ministers gehou om die fiasko van die Gupta-geval te bespreek en daarmee ook probeer om die grootste moontlike poging aan te wend om skadebeheer toe te pas.

Talle ministers en Departemente het reeds te kenne gegee dat hulle nie die toestemming gegee het vir die Gupta gaste se vliegtuig om op Waterkloof te land nie.

Die gaste was deur geen punt waar hul bagasie ondersoek of gekontroleer is nie. Die polisie het boonop nog die gaste begelei na Sun City.

Dit het intussen ook bekend geword dat die drie BBP-sitkamers op Waterkloof lugmagbasis opgemaak was met blomme en versierings vir die gaste, en tafels vol verversings het alles afgerond.

Na betroubaar verneem word sou Zuma ’n eregas by die spogtroue gewees het. Dit is egter afgestel weens die fiasko en noodvergaderings wat gehou word oor die hele saak.

Hy sou daarna die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) besoek het.

Zuma sou glo met twee van 17 Eskader se Oryx-helikopters na Sun City gevlieg het. Die een vir hom en sy geselskap en die ander een vir sy lyfwagte en hul toerusting.

’n Voormalige Weermag bevelvoerder het aan Die Vryburger gesê die antwoord kan baie maklik gevind word oor wie toestemming gegee het vir landingsregte by Waterkloof.

Die slim Valke kon sommer daardie selfde dag die Gupta-familie ondervra het oor wie vir hulle toestemming gegee het, het hy gesê.

Veiligheidskenners sê dat die ander moontlikheid is ook dat die weermag die gaste in aanhouding kon ondervra, asook die klomp bestuurders van die luukse voertuie.
’n Derde moontlikheid was om die vliegtuig se loots bevel te gee om die terrein dadelik te verlaat met gaste en al.
’n Vierde moontlikheid is heelwaarskynlik in die besondere geval, die sterkste moontlikheid: Die weermag was nie teenwoordig nie, of het nie lus gehad vir werk nie, of is te onkundig om te weet wat gedoen moes word, of is dalk medepligtig. Wie sal weet, het hy gevra.

Daar word nou wyd bespiegel dat pres. Zuma dalk self goedkeuring gegee het dat sy Gupta vriende die lugmagbasis kon gebruik. Meningsvormers bespiegel ook oor die moontlikheiddat die Gupta familie een of ander houvas op van die regering se mense het.

Die onberekenbare skade wat deur die gebeure veroorsaak is, kan nie herstel word nie. Die regering se slimste antwoorde sal geen jota of titel verander aan dit wat die wereld gesien het nie, sê die voormalige weermag bevelvoerder.

Hangende vrae bly onbeantwoord. Wie het die Polisie opdrag gegee om die begeleiding te doen, en wie het geweet om blpmme en verversings gerred te hou, en wie is beveel om rooi tapyte uit te rol? Was die dalk die President self?