Affodille / Narcissus … nog nie te laat om te plant


Dis nog glad nie te laat om nou nog ’n paar Affodilbolle in die grond te kry nie. Ons kan hulle mos van April tot laat in Mei elke jaar plant. Hulle wil eintlik eers geplant word as die weer heelwat afgekoel het. Wanneer hulle te vroeg geplant word, kan dit lei tot swak groei en embrioniese blomme wat sal afval of baie beskadig sal wees. Maak seker dat die regte kant bo is, volgens die verpakkingsinstruksies. Nadat hulle geplant is, moet hul baie gereeld en diep water kry veral om die beste gehalte blomme te verkry. Dit is ook voordelig vir die vermeerdering van goeie bolle onder die grond. Baie blombolle misluk of stel ons teleur omdat hulle nie genoeg water kry nie.

Affodille is familie van Amaryllidaceae en van die genus Narcissus. Hulle is redelik gehard en blom in die lente. In Europa groei hulle in woude. Daar is tussen 26 en 60 spesies en soveel nuwe Affodille by kwekerye. Affodille groei van ligte bruin bolle. Hulle maak dan lang spiesvormige donkergroen blare en die stammetjie wat die blom dra, verskyn in die lente. Die plant kan van 1 tot 20 blomme dra wat soos klokkies op 6 blare sit en dit kan ook ligte wit, geel wees met die verskillende kleure klokkies. Dit is eenvoudig pragtig. Daar is ook deesdae Affodille wat dubbele blomblaartjies het en die klokkies is ook dubbelblarig.

Affodille is baie ornamenteel in die tuin en baie goeie snyblomme. Alle Narcissus spesies bevat die alkaloïed gifstof stuifpoeier, meestal in die bol en selfs die blare. Dit moenie mondelings ingeneem word nie. Was u hande baie goed nadat met die bolle gewerk is. Die bolle kan deur onkundige mense en kinders, verwar word met uie.

Die algemeenste siekte by Affodille is, is die “affodil uitslag”. Dit lyk soos ’n uitslag en lyk ook of die plant stukkend of dik plekke aan het. Dit lyk soos dermatitis op ons hande.
Die Japannese gebruik Affodil wortels wat hulle met koringmeel meng tot ’n pasta, om wonde mee te behandel.

Die heel beste is om Affodille te plant vir versiering in u tuin en huis. Gaan besoek gerus u tuinsentrums en kwekerye om al die verskillende nuwe soorte te kry. En wanneer die lente kom en dit blom so pragtig, pluk ’n yslike bos vir die vaas in die huis!!!

Plant en geniet die tuin.