Zuma: Verkwistend die Grondwet oortree


Pres. Jacob Zuma het waarskynlik die land se Grondwet oortree met die stuur van troepe na die Sentraal Afrika Republiek gedurende Januarie vanjaar.

Wat egter onbetwisbaar is, is dat hy die SAR onwettig ingegaan het met gewapende troepe aangesien die ooreenkoms tussen Suid-Afrika en die SAR reeds verstryk en verval het.

Die ontplooiing van Suid-Afrikaanse troepe in die SAR kon gedoen word ingevolge ’n Memorandum van Ooreenkoms wat slegs geldig was vir die tydperk tot 11 Februarie 2012. Daarna het die regering die ooreenkoms op 31 Desember 2012 vir nog vyf jaar hernu, maar die hernuwing is ongeldig aangesien dit reeds verstryk het.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die Minister van Verdediging, het op 2 April vanjaar gesê sy het ’n dokument wat die aanvanklike ooreenkoms vir nog vyf jaar verleng het, persoonlik in Desember geteken.

“Ná lang onderhandelings het die Suid-Afrikaanse regering besluit om die aanvanklike memorandum van verstandhouding te hernieu,” het sy gesê.

Nou het dit aan die lig gekom dat Mapisa-Nqakula die oorspronklike ooreenkoms bloot met ’n diplomatieke nota hernieu het.

Daar is nie ’n tweede memorandum van verstandhouding nie.

Die oorspronklike Memorandum wat deur Mosiuoa Lekota, die voormalige Minister van Verdediging, onderteken is, het reeds verval want dit is vir vyf jaar geldig gewees en het in aanvang geneem op 11 Februarie 2007 en verstryk dus op 11 Februarie 2012.

Politieke en Weermag kenners is dit eens dat daar talle ongerymdhede aan die saak verbonde is.

Die feit dat ’n tweede ooreenkoms nie bestaan nie, beteken dat Zuma op onwettige wyse troepe in ’n ander land ontplooi het.
Hy het ook die land se Grondwet oortree volgens kenners, en Suid-Afrika mislei deur te kenne te gee dat ’n tweede ooreenkoms bestaan.

’n Politieke analis het die aangeleentheid beskryf as ’n daad van aggressie teen die SAR en behoort internasionaal veroordeel te word. Mnr.Zuma behoort direk verantwoordelik gehou te word vir die dood van die 13 soldate.

Prof. Pierre de Vos, ’n Grondwetkenner, stem ook saam en sê die optrede dui op ’n ernstige oortreding van die Grondwet.

“Die Grondwet sê soldate kan net ontplooi word ooreenkomstig ’n geldige bilaterale ooreenkoms. As daar geen geldige ooreenkoms vir die ontplooiing was nie, is dit ’n oortreding van die Grondwet.”

De Vos het gesê daar kan geen verlenging wees van ’n dokument wat verval het nie.

’n Regskundige meen ook dat pres. Zuma persoonlik verantwoordelik gehou moet word vir die miljoene Rand wat hy verkwis het met sy magsvertoning wat die ’n muis gebaar het. Dit is dus geen wonder dat die ANC regering probeer het om die saak te verswyg nie, het hy gesê.