Welsyn kinders ly honger


Nawongo, die sambreel organisasie van welsynsorganisasies in die Vrystaat, het gedurende die afgelope aantal jare ’n reeks hofsake gewen teen die LUR van Welsynsdienste.

Na raming is meer as R9 miljoen reeds aan hofsake spandeer wat deur die betrokke Departement betaal moes word.
Intussen ly kinders in weeshuise honger omdat die staatshulp slegs R12 per kind beloop waarmee drie maaltye per dag voorsien moet word.

Waarnemers is van mening dat die R9 miljoen wat beskikbaar was om hofkoste te delg, eerder aan welsynsorganisasies en weeshuise gegee kon word om kinders te versorg.

Vrywillige welsynsorganisasies kry dit bitter moeilik om voort te gaan met hulle dienste. Indien die owerhede net R10 per kind meer wil betaal sal die omstandighede aansienlik verbeter.

Die grootste aantal weeskinders in die provinsie is geplaas in inrigtings as gevolg van die invloed van die alom bekende HIV virus probleem.

’n Kenner op die gebied van welsynswerk sê die grootste probleem is dat amptenare van die Departement eerder vir hulle eie sakke sorg en as daar dan iets oorbly, dit aan welsynstrukture beskikbaar stel.