Uitspraak oor Minerale Regte kan verkeerde sein uitstuur


TLU SA het sy diepe kommer uitgespreek na die Grondwetlike Hof se uitspraak oor die minerale regte.

Ongeag die woordspeling waarvan die Grondwetlike Hof oënskynlik gebruik gemaak het oor of minerale regte onteien is of nie, is die uiteindelike realiteit dat grondeienaars hulle minerale regte inderdaad verloor het en dat die Staat daardie reg bekom het en dit nou links en regs uitdeel. Boere het nou reeds die probleem dat prospekteerders eenvoudig op hulle grond kan opdaag en begin prospekteer.

Die Grondwetlike Hof het voorts bepaal dat grondeienaars nie geregtig is op vergoeding nie. TLU SA se President, mnr. Louis Meintjes, sê dat dit ’n gevaarlike presedent kan skep. “Die feit is dat grondeienaars hulle eiendomsreg oor minerale regte verloor het sonder dat hulle vergoeding daarvoor ontvang het. Hierdie uitspraak kan wetgewers die indruk gee dat hulle ook ander wette kan skep of wysig wat enige vorm van eiendomsreg kan ontneem sonder vergoeding. Met die sprake van ’n nuwe Onteieningswet, is ons hoogs bekommerd oor hierdie uitspraak,” sê mnr. Meintjes. “Dit gaan ook gewis ’n baie nadelige uitwerking hê op beleggersvertroue.”

“Waar die Grondwetlike Hof enige wetgewing aan die land se Grondwet moet toets, moet dus aanvaar word dat die Grondwet dus inderdaad voorsiening maak vir die vervreemding van eiendomsreg sonder of teen onvoldoende vergoeding.

“Die Grondwet maak daarop aanspraak dat dit in lyn is met internasionale wetgewing. Dit het dalk nou nodig geword dat die Suid-Afrikaanse Grondwet internasionaal beoordeel moet word om te bepaal of dit wel die geval is,” sê mnr. Meintjes.