Transnet beroof pensioenarisse


Van die land se bekendste senior regsgeleerdes is op die oorlogspad teen Transnet.
Volgens die span is Transnet skuldig daaraan dat hulle die pensioenfondse van sy afgetrede lede, onder wie derduisende uiters behoeftige bejaardes, op bedenklike maniere stelselmatig oorgedra het na hulle eie rekening.

Dit is blykbaar die siening van die land se bekendste regsgeleerdes wat nou die grootste en sekerlik die mees opspraakwekkende siviele eis in Suid-Afrika se regsgeskiedenis sal word toe die saak by die Pretoria Hooggeregshof ingedien is.

Die dokumente en pleitstukke in dié saak beloop bykans R80 miljard en is opgestel deur adv. Jaap Cilliers SC en adv. Leon Kellerman SC.

Die onwettige handelinge waarop die fondse blykbaar gestroop is, het onlangs bekend geword toe regsgeleerdes wat namens pensioenarisse optree, die notules en finansiële state van dié fondse in die hande gekry en ontleed het.
Volgens hofstukke wat ingedien is, wys dit glo hoe die fondse se belangrikste bate – skuldbriewe ter waarde van R7,7 miljard wat jaarliks sowat R1,2 miljard inkomste gerealiseer het vroeg in 2001 verkwansel is in ruil vir aandele in MTN, destyds M-Cell, ter waarde van sowat R1,395 miljard.

Die stropery het ook meegebring dat die trustees in 2001 besluit het om die jaarlikse verhogings van pensioene tot 2% te beperk wat strydig met vorige besluite dat die verhoging ten minste 70% van die inflasiekoers moet dek.

Regsgeleerdes sê namens pensioenarisse in ’n eedsverklaring die wanbestuur van die fonds is blykbaar gedoen met die instemming van die destydse Minister van Openbare Ondernemings, Jeff Radebe en die Minister van Finansies, Trevor Manuel.

Hulle vra derhalwe die hof om die enorme eis van R79 miljard in Julie as ’n klas-aksie goed te keur.
Dit sal waarskynlik daartoe lei dat Transnet se kredietgradering onmiddellik afwaarts aangepas word.
Pensioentrekkers van Transnet wat nader besonderhede oor die klas-aksie wil hê, kan die regspan kontak by Geyser & Coetzee Prokureurs, 012 663 5247/8 of die Transnet-Pensioen-aksiegroep per e-pos kontak by [email protected]