Ter wille van wie?


Blaai deur die berigte van Die Vryburger en daar is talle kere iets wat ’n mens se bloed laat kook. Berigte wat daarop dui dat die volksmoord teen versnelde pas plaasvind, of die verkragting van ’n adellike dame, of diefstal van kosbare erfstukke, of die vernedering van werkloosheid omdat die velkleur nie donker is nie….

Dit alles en nog meer gee rede waarom lesers die “pen opneem” en kommentaar lewer in die ruimte wat daarvoor geskep is in Die Vryburger.

As Boere-Afrikaners hul stem verhef teen hierdie dinge, dan spreek dit van goeie beginsels, van sterk oortuigings en standpunte. Dit spreek van ’n goeie opvoeding!

En dit is goed, want so hoort dit omdat dit is hoe ons groot geword het. Daarmee saam is ons Christen-gelowiges met wortels wat diep geanker is oor baie eeue.

As ons dan kommentaar lewer, met ’n gevoel van wrewel, dan moet ons seker ook daarmee ons beste karakter eienskappe openbaar. Dan moet ons die taal keurig gebruik. Dan moet die skerpkant van ons kommentaar nog leesbaar wees vir die fyn opgevoede jonge dame of jongeheer, maar ook net so moet ons in aanmerking neem dat ons lesers het wat reeds verby die 80 jaar is.

As ons dan nie vir hierdie mense respek het nie en hulle nie in ag neem met ons woordkeuse nie, dan sal die redaksie daardie kommentaar moet wysig of selfs moet verwyder.

Dit wil ons nie graag doen nie! Ons glo ons het beskaafde lesers; Ons het wel opgevoede kommentaar skrywers. Ons sal nie graag so drasties teen lesers wil optree nie.

Die redaksie doen derhalwe ’n ernstige beroep op elkeen wat kommentaar lewer – plaas ’n wag voor jou mond – en in hierdie geval, ’n wag voor jou “pen” of ’n wag voor jou vingerpunte op die sleutelbord.

Ons vra die lesers om dit ter wille van ons geloofsoortuiging te doen. Ons vra dit ter wille van diegene wat daardie kommentaar moet (en wil) lees. Ons vra dit ter wille van die skrywers daarvan.

Niemand is trots daarop om skeltaal te lees terwyl daardie skeltaal bedoel is vir iemand wat nooit Die Vryburger sal lees nie. Dat dit reg is om soms skerp te reageer, word nie misken nie.

Inteendeel – goeie skerp kritiek, in goeie Afrikaans sonder neerhalende of lelike bewoording, is binne ons almal se vermoë – en dit strek ons skrywer, en ons lesers tot eer.

Ten slotte: Die Vryburger se koms was baie tydig. Dit is opvallend dat die koerante nou, die een na die ander, ook e-koerante vestig met die verskil dat lesers daarvoor sal moet betaal.

Die Vryburger bly gratis solank as wat ons dit finansieel kan bybring.

Redakteur