Suid-Afrika sou kon ingryp in SAR


Vier Gripen vegvliegtuie was waargeneem op die Ndola-lughawe van Zambië en waarnemers meen die Weermag was op die oog af gereed om met ’n tweede ingryping in die Sentraal Afrika Republiek (SAR) die rebellemagte se tjank af te trap.

Foto’s van die lugmag se Gripen-vegvliegtuie, met missiele toegerus is ’n bewys dat Suid-Afrika oor slaankrag beskik. Suid-Afrika beskik oor 26 Gripen vegvliegtuie waarvan 12 gestoor word vir latere gebruik.

Die vier Gripen vliegtuie is op die Ndola-lughawe in die noorde van Zambië opgemerk toe dit uit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) na die lugmagbasis in Noord-Transvaal terug gekeer het. Die terugkeer is gedoen nadat die Ekonomiese Gemeenskap van Sentraal-Afrikaanse State (Eccas) glo aangedui het dat hulle die krisis in die SAR sonder Suid-Afrika sal hanteer.

Waarnemers het egter gesê die stuur van vegvliegtuie na die DRK, asook die massiewe klomp toerusting wat met huurvliegtuie noordwaarts gestuur is teen astronomiese koste, was nie net ’n magsvertoning nie, maar ook ’n kwistige vermorsing van geld aangesien die land nie by sulke operasies betrokke behoort te wees nie.

“Die feit dat die ECCAS aangedui het dat hulle die saak sal oplos, is ’n bewys dat Zuma se emosionele besluit om in die SAR se interne sake betrokke te raak, nie in belang van Suid-Afrika was nie, het ’n voormalige Weermag deskundige gesê.

Intussen is verneem dat Suid-Afrika se Weermag, op instruksie van mnr. Zuma, 220 soldate laat ontplooi in die Indiese Oseaan vir ten minste ’n jaar. Dit word gedoen om te help met die bekamping van seerowery teen ’n beraamde uitgawe van sowat R190 miljoen.