Stropers teiken volstruise


Volstruisboere loop nou ook deur onder stropers soos wat met renosters die geval is. Hulle pluk die voëls se vere gedurende die nag.

Mnr. Piet Kleyn, hoof-uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer sê eers was vere wat reeds gepluk is en in stoorkamers gehou word, gesteel.

Sake het egter drasties verander. Die stropers trek ’n kous oor die voël se kop en pluk die vere. Gevalle is bekend waar die voëls eers doodgeslaan is.

Die vermoede bestaan dat dit gedryf word deur ’n sindikaat.

Die nuwe wending word toegeskryf aan die hoë prys wat volstruisvere tans behaal op die markte. Dit hou boere aan die lewe terwyl die kwarantyn op plase ’n verbod op uitvoer gebring het.