Stakings in vervoerbedryf is vernietigend


Al hoe meer vakbonde steun die vervoerstaking en van die langafstand busdienste gaan ook van Woensdag af staak.

Die vakbond Satawu het bevestig dat die staking deur busbestuurders sal duur tot alle vakbondlede geraadpleeg is oor die hersiene loon aanbod van 9%.

Die meeste vakbonde eis ‘n verhoging van sowat 18%.

Vincent Masoga, ’n Satawu woordvoerder het pendelaars om verskoning gevra vir die ongerief. Die vakbonde het volgens hom geen ander weg om te volg nie.

n Bestuurslid van die Oranje Sakekamer van Pretoria het daarop gewys dat die stakings in die vervoerbedryf nie geregverdig kan word nie. Die aanbod van 9% is reeds hoër as wat deur ander instansies aangebied word vir werkers. Die stakers, en by name die vakbonde, moedig hul werkers aan om te staak omdat dit die enigste manier is waarop die vakbonde nog steun kan kry van werkers.

Wat die vakbonde blykbaar nie besef nie, is dat hulle gedurige stakings die land ekonomies vernietig, het hy gesê.