Spanning verhoog tussen Duitsland en Brittanje


Premier Cameron van Brittanje verkeer in isolasie en dit word al duideliker dat Europa nie bereid is om na Engeland se pype te dans nie.

Die meerderheid Europese lande weier om deel te neem aan ’n peiling wat deur Engeland gevra is. Die dokumente wat aan die lande van die EU gestuur is, word nie terug gestuur nie. Sovêr bekend het net Italie en Swede die vraelys ingevul en terug gestuur.

Die Britse regering wil met die meningsopname die magsewewig tussen Europese lande en Brittanje verander. Cameron wil bepaal watter magte moet setel in Brittanje wat tans in Europa gevestig is.

David Cameron, het in ’n toespraak gesê sy doel is om soveel moontlik magte uit Brussel terug te bring na Londen.

Om dit te doen moet hy eers deur middel van die vraelys ondersoek na watter magte Londen deur die jare aan Brussel afgestaan is en watter daarvan moet terugkom.
Europese regerings, met Duitsland en Frankryk voorop, het egter geweier om te antwoord op die vrae in die dokumente.

Die Duitse bondskanselier, dr. Angela Merkel, het per geleentheid vir Cameron gewaarsku dat sy indien sy, soos verwag word, die Duitse verkiesing in September weer wen, hom nie tegemoet sal kom om Londen te versterk ten koste van Brussel nie.

Die gebeure word deur waarnemers beskou as ’n groot terugslag vir Cameron en ’n ernstige nederlaag vir Brittanje.