Soursop vrug van Annona muricata oftewel die suursakboom


Hierdie Soursop (Annona muricata) is ’n breëblaar, blommende, immergroen boom en is nie bekend by ons in Suid-Afrika nie. Dit is ’n tropiese plant. Hy kom van Mexico, Kuba, Sentraal Amerika, Colombia, Brazil, Peru en Venezuela. Alhoewel hy nie naastenby soos ’n papajaboom lyk en sy vrugte ook nie soos ’n papaja lyk nie, is hy van dieselfde familie.

Die Soursop groei baie goed waar dit warm is en die humiditeit hoog is. Hy aard nie in koue gebiede met baie koue winters nie. Wanneer die temperatuur laer as 5ºC daal, sal die blare en takke skade kry en die boom kan selfs doodgaan. Die vrugte sal ook droog word en nie meer eetbaar wees nie. Die boom word tussen 7 en 9 meter hoog. Die boom het donkergroen blink en langwerpige blare. Die boom maak ’n hoofstam met takke wat van die grond af uitspruit en die vrugte kom op enige plek op die takke en stamme voor. Die hout van hierdie boom is bleek en sag en aromaties. Dit is vroeër gebruik om skeie mee te maak om beeste in te span omdat dit nie die diere se nekhare afgeskaaf het nie. Die blomme van die boom sit aan kort stingels aan die takke en lyk soos klokkies wat hang.

Die vrug is effens peervormig met ’n growwe stekelrige groen skil. Die geur van die vrug is ’n kombinasie van aarbei en pynappel en daar kan ook ’n suur sitrus geurtjie by wees. Soursop-vrug is roomkleurig met ’n onderliggende geur van klapper of piesang. Die vrug is romerig en sag binne en het swart oneetbare pitte. Soursop-vrug word gebruik om vrugtesap, lekkergoed en roomys van te maak. Die vrug bevat Vitamien C, B1 en B2.

Volgens bronne kan die vrug ook goed wees vir die gesondheid en word gebruik teen kanker, infeksies, Parkinson’s siekte. Die blare is getrek soos tee en dit word gebruik om hare te was want dit het kopluise verwyder. Kinders met ’n hoë koors word ook daarmee afgespons. Daar word kapsules gemaak vir die gebruik teen kanker, maar die kankervereniging meen daar is nie bewys dat dit kanker kan genees nie.

Onthou dat u altyd eers met u geneesheer moet bevestig voordat u enige kruie medikasie gebruik.