Sinnelose skildery om naam te maak


’n Uiters omstrede skildery is vertoon waarin pres. Jacob Zuma en oudpres. Nelson Mandela as wit mense uitgebeeld word, maar voor die opening van die kunsuitstalling is dit verwyder.

Die skildery is deur die Vrystaatse kunstenaar Kobus Myburgh van Edenville geskep en was veronderstel om deel te vorm van ’n uitstalling met die viering van wêreld kunsdag.

In dieselfde skildery word staatshoofde van die Republiek, Verwoerd, Vorster, P.W. en F.W. met swart velle uitgebeeld.

’n Kunskenner het aan Die Vryburger gesê die skilder het waarskynlik twee dinge in gedagte gehad. Hy wil sy naam bekend laat word en hoop waarskynlik dat iemand ’n belaglike hoë prys vir die skildery sal betaal.

Dit bly egter ’n stuk werk wat die skepper daarvan se swak smaak openbaar, het sy gesê.