Sigbare polisiëring!


Die reënboogpolisie is deesdae so gereeld in die koerant dat Die Vryburger se tuisblad hierdie week op ‘n stadium gelyk het na die polisiediens se amptelike maandblad. Ons hoor gereeld dat hulle probeer sigbaar wees, maar ek het duidelik nie verstaan wat hulle daarmee bedoel nie. Hulle slaag op hul eie manier hierin want die polisie is meer sigbaar as ‘s ‘n drie-haar moesie op ‘n fyn meisie se neus.

Dit is nie maklik om so sigbaar te wees nie, dit vat harde werk en oulike unieke inisiatiewe. As jou lede hul werk doen en die blouligbende van die gewese vrou van die hoofpruim aftrek, beloon jy hulle met twee jaar betaalde verlof.

As ‘n dansinstrukteur van Oekraïne haar vriendin as vermis aanmeld, moet jou hamstertjie sy wielietjie uit sy as uit rol om uit te kom daarby dat min mense uit Oekraïene na Suid Afrika kom om ballet af te rig en dat sy dus waarskynlik ‘n ander tipe danseres was wat sal tuisvoel agter ‘n klomp vertikale ysterpale.

As dit nog nie sigbaar genoeg was nie kan jy altyd in ‘n minister vasjaag en haar dan ‘n “hond en ‘n hoer” noem, wat ‘n baie valse beskuldiging is aangesien almal weet dat honde hul nie begeef in die donker wêreld van prostitusie nie! Die polisie wou haar toe in hegtenis neem omdat sy op haar loopfoon gepraat het. Haar verweer was dat die foon in die kattebak was. Weet sy dan nie hoe gevaarlik dit is om met jou kop in die kattebak te bestuur terwyl die hele voorste kajuitspasie beslaan word deur die donker ministriële onderwêreld nie!

Uiteindelik as die las te swaar word en daar al te veel werknemers met betaling by die huis sit en kyk na “Worlds dumbest criminals” of “CSI”, kan jy die hulp inroep van die talle moordbendes wat aanmeld as vrywillige polisiebeamptes. Dan kan jy polisie-univorms uitdeel soos Jurie Els lekkertjies uitdeel by die hoofhek van die laerskool met uitkomtyd en aan elke vrywilliger ook ‘n vuurwapen uitreik waarmee hulle dan hul betaling kan gaan haal by die belastingbetalers self.

Een ding is seker, die polisie is wel sigbaar!

Tot volgende slag
Die Sweep