RSA “vlug” uit Midde-Afrika


Al die Suid-Afrikaanse soldate wat in die Sentraal-Afrika Republiek ontplooi was, is nou onttrek volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se woordvoerder.

Al die SANW personeel wat nog in die SAR was, is onttrek en is veilig by die huis volgens brig.genl. Xolani Mabanga.

Hy sê al die soldate ontvang professionele ondersteuning wat hulle mag benodig,

Intussen het Die Vryburger betroubaar verneem dat van die soldate nie ’n tweede keer wou ingaan in die SAR nie, uit vrees vir ’n tweede “lokval”.

Die SANW probeer hulle verleentheid nog vêrder verberg deur nou te kenne te gee dat die SANW soldate tussen 600 en ’n 1000 rebelle doodgeskiet het.

“Dit is van alle waarheid ontbloot, want daar was kwalik 1,000 rebelle in die geveg betrokke waarvan talle minderjariges is,” het ’n waarnemer wat verkies om anoniem te bly, aan Die Vryburger gesê.

Die feit dat soldate nou “veilig tuis” is en dat hulle “professionele ondersteuning” geniet, laat talle vrae ontstaan, het hy gesê.