RSA nederlaag teen rebelle kos miljoene Rand


Die Weermag se nederlaag in die Sentraal-Afrika Republiek (SAR) kos die land miljoene Rand.

Die bykomende uitgawes vir die ontplooiing van soldate en toerusting wat plaasgevind het met sowat 20 vlugte van gehuurde vragvliegtuie na Uganda sal uit die weermag se bedryfsrekening betaal word, volgens die weermag woordvoerder, Siphiwe Dlamini.

Met die fiasko en swak beplande optrede in die SAR is 13 Suid-Afrikaanse soldate doodgeskiet en minstens 27 gewond.
Sedertdien is sowat 25 vlugte deur gehuurde Ilyushin 76- en Antonov 124-vragvliegtuie na Entebbe in Uganda onderneem. Die vlugte moes bykomende ondersteunings toerusting en wapens vervoer wat ontplooi moes word ingeval ingryping teen die rebelle nodig sou wees.

Na verneem word sal die operasie van dié vlugte sowat R300 tot R350 miljoen beloop en dit kon nie vasgestel word of die latere terugbring van die toerusting ingesluit is nie.

Jacob Zuma het tydens vraetyd in die parlement gesê die Suid-Afrikaanse operasie sal oor ’n termyn van vyf jaar R2,1 miljard kos maar dit is sonder die jongste uitgawes.

Intussen is vasgestel dat die SANW se soldate almal onttrek is uit die SAR uit vrees dat hulle ook doodgeskiet sal word aangesien die rebelle die hoofstad beheer.

Waarnemers het aan Die Vryburger gesê dit is vreemd dat die Weermag onttrek uit die SAR en nou op die kantlyn gaan staan in Uganda.

Indien die Weermag wou ingryp, moes dit nou gebeur het aangesien die toerusting reeds daar ontplooi is. Dit wil voorkom asof die hele operasie ’n klug geword het en die SAR rebelle lag vir Suid-Afrika, want dit blyk noudat die SANW bang is vir die paar duisend rebelle, het hy gesê.