Rijksmuseum heropen.


Amsterdam se Rijksmuseum, tuiste van die wêreld se grootste versameling van Rembrandt se skilderye het na ‘n dekade weer heropen. Dit was ook die laaste amptelike optrede van Koningin Beatrix wat aan die einde van die maand abdikeer.

Die Nederlanders is besig om die hoofstad skoon te maak. Bordele en daggakafees word toegemaak en na die restorasiewerk aan die museum is die heropening daarvan glansryk gevier.

Die Rijksmuseum, (die Nederlanders se antwoord op die Louvre) is in 1885 voltooi. Die restourasieprojek van €375m is deur die Spaanse argitekte Cruz y Ortiz gelei. So omvattend was die restourasie dat slegs Rembrandt se beroemde Nagwag in sy oorspronklike plek is. Dit was die oorspronklike argitek Pierre Cuypers se visie om ’n museum op te rig met dié enorme Barok-skildery van 4 x 5 m as die altaarstuk in die galery van eer, in die hartjie van die museum.

Hoewel die museum oor meer as ‘n miljoen skatte beskik, is daar vir die opening slegs 5 000 van die 8 000 stukke wat permanent uitgestal word, skoongemaak.
Die nuwe kronologiese uitstalling plaas skilderye en historiese stukke bymekaar om die geskiedenis binne konteks te plaas. Pieter Roelofs, kurator van die museum sê dat die doel is om “die storie van die Nederlandse geskiedenis en kultuur te vertel.

“Besoekers moet ‘n gevoel van tyd en skoonheid kry. Om die Rijksmuseum te betree is soos om in ‘n ander wêreld te leef – die wêreld van Rembrandt, Vermeer of Mondrian.”

Hoewel die uitstalling aan die hoogste moderne standaarde voldoen, is daar ‘n belangrike faset van die 21ste eeu afwesig. “Daar is geen video- of rekenaarskerms nie. Ons glo die kunswerke kan vir hulle self spreek,” sê Taco Dibbets, direkteur van die versamelings.