Raad op Gesondheidsberoepe ernstig bevraagteken


Eerwaarde Andrew George is met ernstige beserings in ’n hospitaal opgeneem nadat ’n voertuig hom in 2008 van sy motorfiets gestamp het.

Hy het ’n saak begin teen die geneesheer wat hom behandel het omdat hy behandel is vir ’n gebreekte gewrig en beseerde longe. George het egter ook ernstige rib beserings opgedoen en sy sleutelbeen is gebreek waarvoor hy nie behandel is nie.

“Die RGSA is daar om die publiek teen wanpraktyke te beskerm. Pleks daarvan het hulle die skuldige op wetlik tegniese punte vrygespreek,” het hy gesê.

“Die RGSA het ’n regskomitee geword en is nie meer ’n mediese beskermingskomitee nie, ” het hy woedend verklaar.

X-straalfoto’s van George se bolyf het getoon dat hy 16 rib-breuke gehad het en ook twee rugwerwels en ’n sleutelbeen gebreek het.

Dr. Richter is wel skuldig bevind dat sy nagelaat het om die ernstige aard van George se borsbeserings te diagnoseer en te behandel.

Richter, ’n voormalige ongevalle-dokter in die Olivedale-kliniek, Randburg, is slegs vir ses maande geskors wat vir drie jaar opgeskort is.

Dié klagte is deur die RGSA se komitee vir professionele gedrag teruggetrek nadat Richter se advokaat, Stephen Farrell, daarteen beswaar aangeteken het.